Neem my in jou arms my lief, en kyk na my. Al die geheime wat ek
vir die wêreld verberg, openbaar ek aan jou, en jou alleen. Lees
die onuitgesproke woorde, sien die teerheid en die lig wat uit
my oë skyn. Ek lig die sluiers sodat jy tot in my siel kan sien,
en die waarheid wat diep binne verborge is, daarin kan lees.
Laat my toe om my hart voor jou bloot te lê, sodat jy kan weet
hoe ek oor jou voel. Ek wil jou kop teen my bors vashou sodat jy
kan hoor hoe my hartklop 'n eenvoudige liefdesverklaring tot jou
rig. Jou gesig wil ek liggies in my hande toeskulp, en
vlindersag met my vingerpunte oor die lyne om jou mond streel,
jou my sagte lippe bied sodat jy die soetheid daarvan kan proe.
Bedags, as jy ver van my is, hoor ek jou stem in die wind, en in
elke liefdesmelodie. Snags, wanneer die brandende verlange my na
buite dwing, soek ek jou geliefde gesig tussen die flikkerende
sterre, en die silwer maan in die hemelruim. In my eensaamheid
oorheers jy my gedagtes, en in my drome voel ek die warmte van
jou liggaam teen myne. My hele wese roep na jou, en die smagting
om jou weer te sien, oorweldig my. Die trane wat ek stort bring
geen verligting nie, en ek hou vas aan die hoop dat jy weer sal
terugkeer, om die skrynende verlange in my te stil.
Wanneer jy by my is, luister ek na jou, en dit voel asof 'n
verfrissende motreën oor my val, en my sorge, my hartseer
wegspoel. As ek nooit weer jou stem hoor nie, sal die voëltjies
ophou sing en die lied in my hart eindig. Ek verdrink in jou
sagte oë wat met toegeneentheid op my gerig is. As ek jou nooit
weer mag sien nie, sal die son ophou skyn en my glimlag verdwyn.
Ek wil jou hand neem en dit liggies teen my wang druk, om myself
te vergewis dat jy hier by my is. As ek jou nooit weer mag
aanraak nie, sal die toekoms troosteloos voor my uitgestrek lê,
en sal ek maar slegs bestaan. Die lewe sal dan geen sin meer
maak nie. Al wat ek van jou vra, is 'n klein stukkie van jou
hart, en 'n deeltjie van jou lewe.
Ek het jou ontsettend, onvoorwaardelik en bo alles lief. Geen
ander het my nog ooit soos jy betower nie, en geen ander sal jou
ooit kan bemin soos ek nie. As ek vir jou die son kon gaan haal,
die maan kon gee, of die sterre kon pluk, dan sou ek. Maar al
wat ek jou kan bied, is my hart, my siel, my hele wese, vir ewig.Butterfly.
|