|
In ‘n onbewaakte oomblik, toe jy kwesbaar was,
Het jy die vensters van jou siel,
Die geslote deur van jou hart
Onwetend vir my oopgemaak, my toegelaat om in te gaan.
Diep binne jou was littekens van gister se seer.
Ook wonde, wagtend op heling,
Skaafmerke van ‘n lewenslas,
Opgestapelde, vergete drome, wense onvervuld, vergaan.
Duidelike getuienis van liefde, vreugde en geluk.
Mementos, soete herinnerings,
Spore van geliefdes en vriende,
Bewyse van prestasies, volvoerde take en hoogtes behaal.
Ek het na jou hart kloppende hart uitgereik,
En liggies met my vingers daaraan geraak
Om die sagtheid, die teerheid te voel.
‘n Medelyde, ‘n weekheid het binne my ontstaan.
Al jou swakhede en tekortkominge,
Verlange, behoeftes, gedagtes,
Gewaarwordinge en gevoelens,
Was iewers onbedek in ‘n hoek van jou hartskamer vergaar.
Toe, eensklaps het jy weer die venster toegemaak,
Die deur sorgvuldig toegesluit.
Maar ek het die ware jy ontdek.
Geen inhibisies of veinsing. Ek was daar, en ek verstaan.
Butterfly.
|