|
Soos ‘n standbeeld sit sy,
Turend na die wolke, donkergrys.
Emosieloos?
Gedagteloos?
Of is dit maar net skyn?
Sy luister na die geruis,
Van die reen wat liggies val teen die ruit.
Is daar verlange?
Na gister se jare?
Na ‘n lank vergete tyd?
Sag streel die maan,
Oor haar ou verrimpelde gelaat.
Deur son gebrei,
Deur wind kasty,
Deur jare se swaarkry geskaad.
Haar glimlag breek deur,
Asof weggevoer na ‘n hemelse sfeer.
Op haar wag,
Dalk nog ‘n dag,
‘n Vergunning van die liewe Heer.
Oor gister dink sy nie meer.
Oor geluk en ongeluk, blydskap en seer.
Sy het nog vandag.
Het darem nog krag,
Om more te ervaar, dis wat sy begeer.
Wat meer kan ‘n oumens vra?
Dat die Vader haar vannag deur kan dra.
Nog ‘n asemteug,
Nog net een tree.
Dan’s daar geen rede om te kla.
‘n Dak oor haar kop, dit het sy.
Kleding en skoene, wel tweedehands verkry.
Genoeg spys en drank,
En nog ‘n paar rand.
Oor haar lappieskombers is sy bly.
Rumatiek-kniee buig, vereelte hande vou.
Ja, Liewe Heer, oud en gedaan sit ek nou.
Verstote en alleen,
G’n siel vir steun.
Maar op U het ek al die jare vertrou.
Die kinders is algar uit die huis.
Kom kuier nie, het ook maar hulle kruis.
Hou maar ‘n oog,
Uit U hemelboog.
Hou hul maar op U genadelys.
Help tog uit as swarigheid kom.
U weet, hulle leef ook maar so skeef en krom.
Dis dwelms en wyn,
Afguns en venyn,
En ai, die satan wat kom, deeglik vermom.
As die kinders wel is, dan’s dit reg.
Ek vat maar die lewe soos dit kom. Goed of sleg.
Wyl U by my is
Is ek gans gerus
Dank Vader. U vat al my laste weg.
U wat my sit en staan so goed ken,
Wat U deurgaans oor my, ou sondaar ontferm,
Gun my die slaap,
Wyl U oor my waak.
Ek prys U, En loof U my Koning. Amen.
BUTTERFLY
|