Lukas 23 v 34: Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle
weet nie wat hulle doen nie.”
God het die wêreld so liefgehad, dat Hy toegelaat het dat Sy
eniggebore Seun onskuldig aan die kruis vir ons sondes geboet
het. Op sy beurt het Jesus vir ons in die bresse getree. Hy het
gepleit dat sy Vader die mens, wat Hom so wreed mishandel het,
vergewe. Dit is die liefde waarvan apostel Paulus in
Korinthiërs hoofstuk 13 praat. Dit blyk bykans onmoontlik te
wees vir een mens om so oor ‘n ander te voel, maar as ons daarna
strewe om meer liefde te gee, sal die lyding wat Jesus aan die
kruis moes verduur, nie tevergeefs wees nie.
Daar is menigte boeke wat jou letterlik stapsgewys vertel hoe om
liefde te betuig of te bewys, maar tog lees en hoor ons al hoe
meer van moord, mishandeling, verkragtings, aanrandings en so
meer. Dit is duidelik dat die handleidings en boeke beslis nie
die gewenste uitwerking het nie. Dalk moet ons die Bybel as ons
wegwyser gebruik. Markus 22 v. 36 tot 40: Wat is die grootste
gebod in die wet? Jesus antwoord hom: “Jy moet die Here jou God
liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele
verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede
wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos
jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete
saamgevat.” Hierdie teks het my so geraak en ek het myself
keer op keer tevore die volgende vrae afgevra:
- Het ek God lief genoeg om die sonde af te lê? Is dit dan
nie God wat my die geskenk van lewe gegee het, en dit as ‘n
liefdestaak beskou om elke dag in my behoeftes te voorsien
nie? Waarom laat ek dan toe dat Satan, wat verantwoordelik
is vir soveel pyn en lyding, my lewe regeer?
- Het ek my naaste lief genoeg om sy of haar tekortkominge
te aanvaar? As ek iemand opreg liefhet, is ek dan nie
veronderstel om die klein irriterende gewoontetjies van my
naaste te ignoreer of mis te kyk, en op die mooi geaardheid
van, en goeie hoedanighede in my medemens te konsentreer nie?
- Aanvaar ek myself soos ek is? Beskou ek myself as God se
kind, volmaak geskape volgens Sy beeld? Waarom ly ek aan ‘n
minderwaardigheidsgevoel? Waarom het ek die begeerte om
mooier en beter as ander te wees?
Gelei deur God se woord, het ek die antwoorde op my vrae
gekry, en ek wil dit graag met u deel.
- Ons almal het gesondig en dit ontbreek ons aan die
heerlikheid van God. Dit sê vir my dat niemand, behalwe
God, volmaak is nie. Elke mens het sy of haar gebreke,
tekorkominge, probleme, begeertes en karaktertrekke waaraan
ons vasklou. Waarom sou ek dan anders as om net myself te
wees, myself aanvaar soos ek is, en deur dit te doen, baie
makliker met my medemens oor die weg te kom? Mense doen soms
dinge wat my in die verlede tot satwordends toe irriteer het,
maar ek het besef dat ek self ‘n paar lelike gewoontes het
waarvan ander mense nie hou nie, en hulle moet noodgedwonge
daarmee saamleef. Ek probeer natuurlik hard om dit wat ek
kan verander, reg te stel, en vind dit nogal moeilik om van
die gewoontetjies ontslae te raak, en word dikwels oor die
vingers getik wanneer ek een van daardie lelike
gewoonte-goggas loslaat. Myns insiens het ons af en toe ‘n
bietjie opbouende kritiek nodig.
- Galasiërs 6 v. 2: Dra mekaar se laste, en gee op dié
manier uitvoering aan die wet van Christus. Instede
daarvan om heeldag tuis te sit en myself te bejammer omdat
ek ‘n bietjie van ‘n introvert is, reik ek uit na mense wat
my regtig nodig het. Dit verskaf my groot vreugde om ander
in nood by te staan, en ek weet verseker dat ek, as ‘n
waardevolle skakel in die sirkel van die lewe, my deel bedra
om die sirkel te voltooi. Dan is dit natuurlik ‘n riem onder
die hart om die blydskap op iemand se gesig te sien wanneer
ek onverwags ‘n kennis of vriend verras met ‘n sjokelade, ‘n
paar blommetjies, of sommer net ‘n gediggie.
- Prediker 9 v. 10: Doen wat jou hand vind om te doen,
want in die doderyk waartoe jy oppad is, is daar nie werk of
kennis of wysheid nie. Ek gebruik my vrye tyd om dinge
te doen waarvoor ek nooit tyd gehad het nie, en geniet dit
ten volle. Ledigheid is die duiwel se oorkussing, en dit is
in daardie oorkussing waarin al die ongesonde, lelike
gedagtes en planne broei. Daar is net nie tyd om oor my
medemens se sondes en foute te praat nie, want ek, self ‘n
sondige mens, verkies om my tyd te gebruik om iets
konstruktiefs te doen.
Hierby wil ek nie verklaar dat ek ‘n engel is nie. Inteendeel,
daar is nog baie skaafwerk aan my en daar is beslis mense wat
baie meer doen as wat ek ooit sal kan droom om te doen, maar ek
probeer om altyd my beste te gee.
As God, die Skepper van hemel, aarde, en alles wat daarin is,
ons so innig liefhet, is Hy beslis ons, sy maaksels, se liefde
waardig. Ek en u, broer en suster, is deel van Sy skepping. As
ons Hom bo alles liefhet, is dit net natuurlik dat ons alles wat
ons Here met liefde geskep het, opreg sal waardeer en liefhê.
Butterfly
|