Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

Die grootste hiervan is die liefde – Deel twee.


Laat die kindertjies na my toe kom.

Ouers probeer om hulle kinders na die beste van hul vermoë te versorg en op te voed, maar in sommige gevalle is die pogings wat hulle aanwend om kinders op die regte weg te hou, onsuksesvol. Drank, dwelms en seks is dinge waarmee baie jongmense hulle tyd verwyl, en dit skyn asof dit ‘n ontmoontlike taak is om dié euwels uit te roei. Ledigheid en invloede van buite is twee van die redes waarom kinders die pad byster raak. Die feit dat drank en dwelms maklik verkrygbaar is, vererger natuurlik die situasie. Ouers wat met die probleem te kampe het, het nie ‘n preek nodig nie, maar wel ‘n bietjie raad of ‘n woordjie van bemoediging. Ek is nie ‘n kenner op die gebied van die opvoedkunde nie, maar het, soos elke ander ouer, ‘n goeie klompie jare in die skool van die lewe deurgebring, en wil graag my deeltjie tot die opvoeding van ons kinders bydra deur middel van die volgende sketse.

Jack was ‘n oulike, intelligente knapie. Op drie jaar het hy al ontdek dat hy sy sin kon kry as hy aan’t skreeu gaan. Die knapie het ook geleer om gekruide woorde te gebruik, tot groot vermaak van die ouers en grootouers. Toe Kosie later op skool was, kon hy nie behoorlik lees of spel nie, maar sterk gekruide taal kon hy maklik baasraak. Hy het die lelike vloekwoorde ook op straat gebruik, ‘n vuil gewoonte en ‘n bewys dat hy geen respek gehad het vir ander mense nie. Onnodig om te sê dat Kosie glad nie ‘n gewilde seun was nie, omdat hy ‘n tekort aan mooi maniere gehad het. Diegene wat wel van hom gehou het, was die kinders wat soos hyself, die lelikste taalgebruik gehad het en nie ‘n duit omgegee het vir hulle medemens nie. Die spreekword lui: soort soek soort. Dan was mamma se lieflingseun ook net met die duurste klere tevrede, en al het dit beteken dat sy ouers hul laaste paar rand gebruik, moes hy dit eenvoudig kry. Kosie was baas in die huis en sy ouers was só lief vir hom dat hulle hom gegee het net wat hy wou hê. Ongelukkig het sy ouers dit nie te breed gehad nie, en Kosie het begin steel om sy duur leefwyse vol te hou. Sy ouers wou nooit aanvaar dat hulle seun ‘n dief was nie, totdat hy uiteindelik van diefstal aangekla is, en in die tronk beland het.

Lenie, haar ouers se engeltjie, het met pienk perskewangetjies en haasbek glimlaggie in almal se harte gekruip. Ma het besluit dat haar pragtige dogtertjie ‘n paar oorkrabbetjies (studs) in haar oortjies moet kry, al was sy maar net twee jaartjies oud, en ousus het glad nie omgegee dat die klein japsnoet haarself met grimering besmeer nie. Lenie was die slimste, mooiste dogtertjie en almal het haar bederf. Sy het aan ‘n hele paar buitemuurse aktiwiteite deelgeneem en het ook op tien jaar ‘n skoonheidskompitisie gewen. Volgens haar ouers was sy te mooi en begaafd om skottelgoed te was of selfs haar eie bed op te maak. Daarvoor was daar mos bediendes. Omdat Lenie ‘n vriendelike mens was, het sy baie vriende gehad, en omdat sy baie mooi was, kon sy kies en keur tussen die jongmans. Op sestien het sy swanger geraak. Na die geboorte van haar baba moes sy ontdek dat nie net haar figuur verander het nie, maar haar hele lewe. Lenie was ‘n moeder en nie meer die pragtige jongmeisie wat die wêreld aan haar voete gehad het nie. Haar ouers het haar innig jammer gekry en alles in hul vermoë gedoen om die lewe vir hul dogter so maklik moontlik te maak. In plaas daarvan dat die ouers Lenie verplig het om haar verantwoordelikhede na te kom, het hulle haar toegelaat om haar gang te gaan omdat sy, Lenie, nog jonk was, ten spyte van die feit dat sy ‘n moeder was. Oupa en ouma het genoeg geld gehad om in moeder en kind se behoeftes te voorsien, daarom het hulle Lenie toegelaat om met haar skoolloopbaan aan te gaan, wat ‘n goeie idee was, en sy het graad twaalf met ‘n paar onderskeidings geslaag. Toe gebeur die onvoorsiene. Lenie se ouers het albei in ‘n ongeluk omgekom. Die jong moeder, eintlik nog ‘n kind, het nou ‘n baba gehad om te versorg, en omdat sy geen naskoolse opleiding gehad het nie, moes sy in ‘n klerefabriek gaan werk om haarself en haar kind te onderhou. Die jong dogter moes uitvind dat dit nie maklik was om ‘n kind te versorg en op te voed nie. Ongelukkig het sy nooit geleer om verantwoordelik op te tree nie, en gevolglik kon sy nie haar kind verantwoordelikheidsin leer nie. Sy is later met ‘n onderwyser, tien jaar haar senior, getroud. Omdat hulle ‘n groot gesin was, moes sy help om die pot aan die kook te hou. Die skoonheidskoningin moes ook leer kook en huis skoonmaak omdat daar nie geld was vir ‘n bediende nie. Sy sou dit so graag anders wou hê. Sy wou so graag ‘n suksesvolle model word, maar moes vrede maak met die feit dat haar drome verpletterd was. Dit was as gevolg van die keuses wat sy gemaak het en ook omdat sy nooit geleer het om verantwoordelik op te tree of om verantwoordelikheid vir haar dade te aanvaar nie.

Jasmina was die enigste dogter van skatryk ouers. Haar ma het nie nodig gehad om te werk nie, want pa het oorgenoeg geld verdien om die gesin van net die beste te voorsien. As gevolg van sy werk was pa dikwels uithuisig, en het geen benul gehad van wat in sy afwesigheid by die huis aan’t gebeur was nie. Ma het ‘n lui-lekker lewe gelei want daar was ‘n bediende wat al die huiswerk gedoen het, en Jasmina het gekom en gegaan soos dit haar pas. Die twee dames was doodgelukkig solank pa gesorg het dat hulle die hoë lewensstandaard kon handhaaf. Jasmina het ‘n uitgesoekte vriendekring gehad, onder wie daar jongmense was wat alreeds die ‘lekker’ kant van die lewe geproe het. Sy het saam met hulle begin rook, en later het drank en dwelms bygekom. Ma het mettertyd agtergekom waarmee haar dogter besig was, maar het verkies om dit dig te hou, en pa was natuurlik heeltemal onbewus van Jasmina se probleem. Toe pa uiteindelik uitvind dat sy dogter ‘n probleem het, was dit te laat. Dit was nie die ouers se skuld dat Jasmina die pad byster geraak het nie, want die dogter was groot en verstandig genoeg om reg van verkeerd te onderskei. Jasmina se ouers het natuurlik die dogter se dwelm- en drankmisbruik probeer regverdig, hulleself blameer omdat hulle nie genoeg aandag aan hulle kind geskenk het nie, en in plaas van professionele hulp kry, probeer om die probleem self op te los. Dit was ‘n fout. Jasmina het aan ‘n oordosis dwelmmidels gesterf.

Is ons liefde dalk blind en doof, of verkies ons om die gevaartekens te ignoreer? Dalk is dit tyd dat ons as ouers ons gesag laat geld in plaas van die kinders toelaat om ons liefde vir hulle te misbruik. Weet u, ons doen ons kinders ‘n baie groot onreg aan deur toe te laat dat hulle die toutjies trek. Indien u kinders nog klein is, kan die boompie nog gebuig word. God verwag dit van ons, ons het dit aan die dooptafel belowe, en is dit aan ons kinders verskuldig om hulle die regte opvoeding te gee, sodat hulle gereed kan wees vir die onbekende toekoms. Spreuke 1 vers 7: Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. Ons as ouers moet ook mekaar met raad bystaan. Job 26 verse 1 tot 3: Toe het Job weer gepraat: Het jy nou die een gehelp wat nie krag het nie? Het jy nou die een bygestaan wat nie sterk is nie? Het jy nou raad gegee aan een wat nie wysheid het nie? Het jy groot insig laat blyk? Ons moet gedurig biddend bly, op die Here vertrou. Psalm 33 vers 20 to 22: Ons vertrou op die Here. Hy is ons hulp en ons beskermer. Ja, in Hom is ons hart bly, op Sy heilige Naam vertrou ons. Hou U liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U. God belowe ons in sy woord dat Hy oor ons sal waak. Hy het immers telkemale aan ons bewys dat Hy sy belofte gestand doen. Lees gerus Jesaja hoofstuk 49. U sal verseker in hierdie hoofstuk krag vir die pad vorentoe kry.

Butterfly.
< Deel I

Deel III >

Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap