Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

Die grootste hiervan, is die liefde – Deel drie


Die aarde en alles wat daarin is.

Genesis 1 vers 27: God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep. Genesis 1 vers 28: Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers or die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Wat ‘n wonderlike voorreg wat die mens te beurt geval het. Ons is nie net na die beeld van God, die Allerhoogste, geskape nie, Hy het ons ook die gawe gegee om kinders voort te kan bring. Maar dis nie al nie. Ons is as heersers oor die diereryk aangestel, en ons is vrye gebruik van die aarde gegun. Die Almagtige God het soveel vertroue in die mens gehad dat hy ons verteenwoordigers gemaak het van alles wat Hy tot stand gebring het. Genesis 1 vers 31: Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was goed. Hy was tevrede met Sy handewerk.

God heg waarde aan alles wat Hy tot stand gebring het en verwag dit van ons om dit alles te vertroetel en te bewaar, nie net vir onsself nie, maar ook vir ons nageslag. Soms aanvaar ons dinge vanselfsprekend, maar het u al gewonder hoe leeg en oninterresant die wêreld sonder plantegroei en diere sal wees? Het u al ooit op ‘n lente-oggend in die veld gaan stap? Dink maar net aan u jaarlikse vakansie langs die see, uitstappies na die tuine, wildtuine of selfs net ‘n pieniek in die buitelug. Wat ‘n belewenis om die vars geure in te asem en die kleureprag te sien! Dit alles het God vir die mens gemaak om te aanskou en te geniet. Hoe kan ons dan anders as om God te dank, loof en prys omdat Hy ons verteenwoordigers van die aarde, en alles wat daarin is, gemaak het. Wat ‘n eer en ‘n voorreg!

Psalm 8 verse 4 tot 10: As ek U hemel aanskou, die werke van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Butterfly
< Deel II
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap