|
Hoe weet jy iemand is vir jou spesiaal?
Wanneer teerheid jou hart omkring,
In jou hart ‘n hunkering,
Dan weet jy.
As jy betowerd na elke woord luister,
Jy staar net, gefassineerd, verbyster,
Dan weet jy.
Sagte oe wat jou gevange hou,
Wyl onbeskryflike geluk jou omvou,
Dan weet jy.
Hoe weet jy wanneer jy iemand bewonder?
As elke woord soos ‘n melodie klink,
En sagte lippe jou nader wink,
Dan weet jy.
Elke gelaatstrek drink jy in,
Jy voel lus om van vreugde te sing,
Dan weet jy.
Die lewe word ‘n liefdeslied,
Al jou sorge verdwyn in die niet,
Dan weet jy.
Hoe weet jy wanneer jy iemand bemin?
Wanneer jy die blydskap and die pyn wil deel,
En jou beminde se seer wil heel,
Dan weet jy.
‘n Beskermende gevoel wat in jou ontwaak,
Al die tekortkoming maak geen saak,
Dan weet jy.
Jou geliefde se nabyheid word altyd verlang,
Jou dierbare se geluk word jou belang,
Dan weet jy.
Hoe weet jy wanneer jy begeer?
Jou bloed wat polsend deur jou are bruis,
Alle geluide om jou, net ‘n vae gesuis,
Dan weet jy.
‘n Vlietende aanraking van ‘n hand,
Wat intense passie in jou laat ontbrand,
Dan weet jy.
Fantasiee en drome word geweef,
Elke dag ‘n voorreg om te leef,
Dan weet jy.
Hoe weet jy wat jy voel is liefde?
Lighoofdig van ekstase wanneer jy besef,
Jy is deur Cupido se pyl getref,
Dan weet jy.
Onmeetlik, onvoorwaardelik, waar en eg,
Is jou gevoel. Eenmalig en reg.
Dan weet jy.
‘n Simfonie van emosies, wat jy nie kan ontleed,
Saamgevat in die grootste emosie, wat liefde heet.
Nou weet jy.
BUTTERFLY.
|