|
Sy groet my met ‘n: “Hallo vrou,”
Verneem dan na my welstand, en die van my gesin.
Sê sy: “Dis eersteklas en derde waters aan my kant.”
En in dieselfde asem lig sy my ook in:
“Jy’s skaars soos eergister se boontjiesop.
Weet jy, ons sien mekaar tog veels te min.”
Dit is nou my vriendin.
Ek sê haar sy lyk taamlik moeg.
Haar antwoord: “Man, die skottelgoedjies staan al in gelid.
Die wasmasjien, hy brom van vroeg vanmôre af.
Het weinig tyd om stil te staan of rond te sit.”
Sê ek: “En môre is dit baas se dag.
Jy sal vir nog ‘n bietjie krag moet bid.”
Al wat sy sê: “Nou dit!”
Sy kry die koffiekoppies uit,
Uitgehonger vir gesels. Ek sien dit in haar oë.
“My bure het gist’raand mos lekker fees gevier,
Die katterjol was onuitstaanbaar, wil jy glo.
En môre soek die mense geld vir kos.”
Ek sê: “En jy gee, wel, volgens jou vermoë”
Sy antwoord my: “Nou so!”
Dan trek sy verder los:
“Kyk net hul arme bloedjies. Winter of te not,
Die loop in oop sandaaltjies, kaalkop in die koue.
Die ou truie, mens, die begin nou al te vrot.
Maar ma en pa, altyd in ‘n zombieblues.
Die siele is oor whisky, brandy, ja die hele lot,
Nes ‘n knapie oor sy snot.”
So praat sy, onderhoudend,
Gee my g’n kans om een sin in te kry.
Vermaak my met die vreemdste, snaaksste sê-goed,
Terwyl sy soos ‘n miertjie besig bly.
Opgeruimd en vrolik, ook ‘n bok vir pret.
Beskikbaar as jy haar dalk nodig kry.
Die liewe vriendin van my.
Butterfly.
|