Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

VIR JOU, LUELLA



Die dag toe jy deel word van my lewe
Het ek die gevoel gekry
Dat ons paadjies saam sal loop
Totdat die dood ons skei.
Jy met jou sonnige geaardheid
Jou mooi glimlag en sagte oe
Het baie diep in my hart kom kruip
So rustig, kalm en onbewoe.

My boesemvriedin en vertroueling,
My rots en my steunpilaar.
Jy het al my geheime geken
By jou kon ek my lot bekla.
Jy met jou goeie humorsin,
Aansteeklike, klokhelder lag,
Wat net die mooi in ander kon sien,
Het my soveel vreugde verskaf.

Jou waggelstappie, parmantige mond,
Is in my geheue ingebrand.
Soveel soete herinnerings.
Heg was ons vriendskapsband.
Wandelings deur die eikelane,
Sorgvrye vakansie-pret.
Gemeenskaplike vriendskapsbande,
Laatnag geselsies in die bed.

Vir nege jaar was jy deel van my lewe,
Maar God het jou net aan my geleen.
Hy’t jou geneem na beter oorde,
Ek was verpletterd en alleen.
Jou stem is stil, jou plek is leeg
Niemand met wie ek my drome kan deel.
Niemand wat my ken en soos jy kon verstaan,
Soms raak alles vir my te veel.

Maar soms, in my tye van smart en verdriet,
As ek bedroef of hartseer voel,
Roep ek jou in my geheue,
En voel die vrede oor my spoel.
Dit wat jy my nagelaat het,
Is minsaamheid, liefde, lojaliteit.
Jou morele waardes en stille krag,
Eerlikheid en regverdigheid.

Dit sal ek altyd diep binne bewaar
En ook daarvolgens probeer leef.
Nooit sal ek jou ooit vergeet nie,
Ons lewens is onlosmaaklik verweef.
Jou vriendskap was ‘n geskenk van Bo.
‘n Kleinnood, rein, eg en teer.
Niemand sal ooit jou plek kan vul nie.
Rus sag Luella, veilig by die Heer.

BUTTERFLY
 
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap