(Op ligter trant).Om deel van 'n gesin van vier te wees is
vandag die in-ding. As jy deesdae meer as twee kinders in
hierdie wêreld bring, is jy of baie dapper of jy het te veel
geld. Mag dalk 'n ongelukkie ook wees. Coogirl (soort van kort
vir Cowgirl) was deel van 'n gesin van agt. Nou dit wil gedoen
wees. Maar dit was jare gelede toe jy nog baie ‘groceries’ vir
jou bietjie geld kon kry. Die lekkerste was, wanneer jy jou
goedjies oor die toonbank gekoop het, het jy nog pasella in die
vorm van oumensdrol ('n lelike naam vir die lekkerste lekkers),
gekry. Deesdae betaal jy pasella, of liewer tax. Sy het dit ook
voorspel, die slimkop, en besluit om haar halfsente te spaar
sodat sy genoeg sal hê om eendag as sy groot is, pasella te
betaal. Ongelukkig het die lus vir drop-lekkers elke keer te
veel geword en haar halfsent blikkie leeg.
Coogirl was nog maar klein toe sy die eerste tekens van 'opstairsgeid'
getoon het. Die plattelandse dorpie waar sy gebore was en
opgegroei het, was kwansuis te klein vir die groot drome wat sy
gekoester het. Soos elke huisgesin, het sy en haar twee broers
en drie susters ook hulle werkies gehad wat in en om die huis
gedoen moes word, en dit was juis dié takies wat benede haar
toekomstige stand was. Dit was die dae toe die swart Welcome
Dover koolstoof nog die werk van die Defy elektriese stoof
gedoen het. Sy en haar drie susters moes drie keer per week veld
toe te loop om hout te gaan kap, in 'n bondels agter hulle rûe
vasmaak en dit huistoe abba. Sagter, groen takkies was gebruik
om as kussing tussen die drag hout en die benerige skouers te
dien. Versagtende omstandighede, het haar pa dit genoem. Sy het
haar ontevredenheid uitgespreek deur haar pa onomwonde te vertel
dat mense nie geskape is om hout aan te dra nie. Daarvoor is
daar diere soos perde en donkies, plus waens en trekkers. "My
kind, dit is hoe ek groot geword het, en so moet jy ook maar
voortsukkel." Het hy dan geantwoord, rustig verder aan sy cigaro
gems gesuig, en om haar verder die hoenders in te jaag, 'n wolk
rook in haar rigting geblaas. Dit het altyd die gewenste reaksie
by haar ontlok. "Sies! Dit ruik slegter as die donkiemis
sigarette wat die klongens rook!" Dan het sy gewoonlik neus in
die lug weggestap tot groot vermaak van haar pa.
Wat Coogirl die meeste gehaat het, was die verhardende
omstandighede. Vrydae moes die seuns koeimis gaan optel, dit met
water meng en voor die deur smeer om die sand uit die huis te
hou. Dit het 'n hele rukkie geduur voordat die mis hard word, en
vir solank as wat sy die nat koeimis kon ruik, het sy nie haar
mond aan kos of water gesit nie. Op 'n dag het die oom haar
gevra om asseblief tog vir oom Hans 'n bietjie bokmis te gaan
vra. Sy was heeltmal uit die veld geslaan. "Wat de ongeluk wil
pa met bokmis maak?" Het sy gevra. Hy het haar met skrefies-oë
van onder sy wenkbroue dopgehou en gesê: "Maar meisiekind, weet
jy dan niks? As mens se ou bors op 'n koue dag soos vandag so
bietjie opneuk, vat jy 'n paar bok drolletjies, gooi so 'n halwe
bekertjie kookwater op, laat dit afkoel en sluk die hele spul.
Jou bors sal totaal en al oopgetrek wees." Dit was een te veel
vir Coogirl. Sy het haar twee handjies in haar sye gesit, voor
haar pa gaan staan, hom heel verontwaardig vol in die oë gekyk
en stoom afgeblaas. "Ekskuus vir die woorde wat ek nou gaan
gebruik, pa, maar daar is nie 'n ander manier om te sê wat ek
wil sê nie." Die oom het verwag dat sy die gewone ou
klaagliedere sal sing, maar hierdie keer het hy hom met die
hardekwas meisiekind van hom misgis. Sy het haar lang swart hare
agtertoe gegooi en losgebars: "Voor ons deur is dit besmeer met
koeimis, die seuns rook donkiedrol en pa sluk bokdrol. Selfs die
lekkers wat ons by die winkel pasella kry, noem ons oumensdrol.
En wat maak dit ons, pa? Die drol-familie?" Toe het sy
doodluiters omgedraai en weggeloop. Die oom het haar vir 'n paar
oomblikke agterna gestaar en uitgebars van die lag, en dit was
byna soos 'n belediging vir Coogirl, wat teruggedraai en haar pa
gevra het: "Is pa seker ek behoort in die familie? Is ek nie
dalk 'n aangenome kind nie?" Sy lag het skoon verdwyn toe hy die
erns op haar gesiggie sien. "Nee, kind. Jy is bloed van ons
bloed en vlees van ons vlees. Jy het alles binne en buite van my
en jou ma gekry, maar die ding is nou net, jy het jou sin vir
humor iewers misgeplaas. As jy lekker wil stap op die pad
vorentoe, moet jy 'n bietjie lag loop soek, my kind. Jy gaan dit
nodig kry." Vir die eerste keer het sy nie 'n antwoord vir haar
pa gehad nie.
Vandag, dertig jaar later, is Coogirl getroud met 'n
welgestelde man. Sy woon in een van die mees gegoede woonbuurte,
is 'n moeder van drie kinders en 'n vooraanstaaande lid van die
gemeenskap. Niemand noem haar meer op haar bynaam nie. Sy is
Alice gebore en verkies om so genoem te word. Haar drome is
verwesenlik. Jare gelede het sy haarself beloof om nooit in die
verlede te leef nie, en het dit tot dusver reggekry. Wat sy
egter nooit sal vergeet nie, is die gesprek oor haar misplaaste
humor. Haar pa was reg. Misdaad, geweld en armoede is aan die
orde van die dag, en niemand sal ooit hierdie tye oorleef sonder
'n bietjie lag in hul lewens nie. Hy leef gelukkig nog, en
verkneukel hom daarin as hy die glinster in haar oë sien wanneer
sy heerlik lag oor enigiets wat snaaks is. Hy het dit
uiteindelik reggekry om sy Coogirl te laat besef dat die lewe
nie net een lang treurmare is nie, maar 'n genotvolle reis na 'n
rustige oudag.
Butterfly.
|