Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

Misgeplaas.


(Op ligter trant).

Om deel van 'n gesin van vier te wees is vandag die in-ding. As jy deesdae meer as twee kinders in hierdie wêreld bring, is jy of baie dapper of jy het te veel geld. Mag dalk 'n ongelukkie ook wees. Coogirl (soort van kort vir Cowgirl) was deel van 'n gesin van agt. Nou dit wil gedoen wees. Maar dit was jare gelede toe jy nog baie ‘groceries’ vir jou bietjie geld kon kry. Die lekkerste was, wanneer jy jou goedjies oor die toonbank gekoop het, het jy nog pasella in die vorm van oumensdrol ('n lelike naam vir die lekkerste lekkers), gekry. Deesdae betaal jy pasella, of liewer tax. Sy het dit ook voorspel, die slimkop, en besluit om haar halfsente te spaar sodat sy genoeg sal hê om eendag as sy groot is, pasella te betaal. Ongelukkig het die lus vir drop-lekkers elke keer te veel geword en haar halfsent blikkie leeg.

Coogirl was nog maar klein toe sy die eerste tekens van 'opstairsgeid' getoon het. Die plattelandse dorpie waar sy gebore was en opgegroei het, was kwansuis te klein vir die groot drome wat sy gekoester het. Soos elke huisgesin, het sy en haar twee broers en drie susters ook hulle werkies gehad wat in en om die huis gedoen moes word, en dit was juis dié takies wat benede haar toekomstige stand was. Dit was die dae toe die swart Welcome Dover koolstoof nog die werk van die Defy elektriese stoof gedoen het. Sy en haar drie susters moes drie keer per week veld toe te loop om hout te gaan kap, in 'n bondels agter hulle rûe vasmaak en dit huistoe abba. Sagter, groen takkies was gebruik om as kussing tussen die drag hout en die benerige skouers te dien. Versagtende omstandighede, het haar pa dit genoem. Sy het haar ontevredenheid uitgespreek deur haar pa onomwonde te vertel dat mense nie geskape is om hout aan te dra nie. Daarvoor is daar diere soos perde en donkies, plus waens en trekkers. "My kind, dit is hoe ek groot geword het, en so moet jy ook maar voortsukkel." Het hy dan geantwoord, rustig verder aan sy cigaro gems gesuig, en om haar verder die hoenders in te jaag, 'n wolk rook in haar rigting geblaas. Dit het altyd die gewenste reaksie by haar ontlok. "Sies! Dit ruik slegter as die donkiemis sigarette wat die klongens rook!" Dan het sy gewoonlik neus in die lug weggestap tot groot vermaak van haar pa.

Wat Coogirl die meeste gehaat het, was die verhardende omstandighede. Vrydae moes die seuns koeimis gaan optel, dit met water meng en voor die deur smeer om die sand uit die huis te hou. Dit het 'n hele rukkie geduur voordat die mis hard word, en vir solank as wat sy die nat koeimis kon ruik, het sy nie haar mond aan kos of water gesit nie. Op 'n dag het die oom haar gevra om asseblief tog vir oom Hans 'n bietjie bokmis te gaan vra. Sy was heeltmal uit die veld geslaan. "Wat de ongeluk wil pa met bokmis maak?" Het sy gevra. Hy het haar met skrefies-oë van onder sy wenkbroue dopgehou en gesê: "Maar meisiekind, weet jy dan niks? As mens se ou bors op 'n koue dag soos vandag so bietjie opneuk, vat jy 'n paar bok drolletjies, gooi so 'n halwe bekertjie kookwater op, laat dit afkoel en sluk die hele spul. Jou bors sal totaal en al oopgetrek wees." Dit was een te veel vir Coogirl. Sy het haar twee handjies in haar sye gesit, voor haar pa gaan staan, hom heel verontwaardig vol in die oë gekyk en stoom afgeblaas. "Ekskuus vir die woorde wat ek nou gaan gebruik, pa, maar daar is nie 'n ander manier om te sê wat ek wil sê nie." Die oom het verwag dat sy die gewone ou klaagliedere sal sing, maar hierdie keer het hy hom met die hardekwas meisiekind van hom misgis. Sy het haar lang swart hare agtertoe gegooi en losgebars: "Voor ons deur is dit besmeer met koeimis, die seuns rook donkiedrol en pa sluk bokdrol. Selfs die lekkers wat ons by die winkel pasella kry, noem ons oumensdrol. En wat maak dit ons, pa? Die drol-familie?" Toe het sy doodluiters omgedraai en weggeloop. Die oom het haar vir 'n paar oomblikke agterna gestaar en uitgebars van die lag, en dit was byna soos 'n belediging vir Coogirl, wat teruggedraai en haar pa gevra het: "Is pa seker ek behoort in die familie? Is ek nie dalk 'n aangenome kind nie?" Sy lag het skoon verdwyn toe hy die erns op haar gesiggie sien. "Nee, kind. Jy is bloed van ons bloed en vlees van ons vlees. Jy het alles binne en buite van my en jou ma gekry, maar die ding is nou net, jy het jou sin vir humor iewers misgeplaas. As jy lekker wil stap op die pad vorentoe, moet jy 'n bietjie lag loop soek, my kind. Jy gaan dit nodig kry." Vir die eerste keer het sy nie 'n antwoord vir haar pa gehad nie.

Vandag, dertig jaar later, is Coogirl getroud met 'n welgestelde man. Sy woon in een van die mees gegoede woonbuurte, is 'n moeder van drie kinders en 'n vooraanstaaande lid van die gemeenskap. Niemand noem haar meer op haar bynaam nie. Sy is Alice gebore en verkies om so genoem te word. Haar drome is verwesenlik. Jare gelede het sy haarself beloof om nooit in die verlede te leef nie, en het dit tot dusver reggekry. Wat sy egter nooit sal vergeet nie, is die gesprek oor haar misplaaste humor. Haar pa was reg. Misdaad, geweld en armoede is aan die orde van die dag, en niemand sal ooit hierdie tye oorleef sonder 'n bietjie lag in hul lewens nie. Hy leef gelukkig nog, en verkneukel hom daarin as hy die glinster in haar oë sien wanneer sy heerlik lag oor enigiets wat snaaks is. Hy het dit uiteindelik reggekry om sy Coogirl te laat besef dat die lewe nie net een lang treurmare is nie, maar 'n genotvolle reis na 'n rustige oudag.

Butterfly.
 
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap