Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

My Aliera.


Aliera, pragtige, skone wese,
Wanneer jy wulps en vlugvoetig soos ‘n jong eland,
Tog met die elegansie van ‘n swaan
My wêreld bewandel,
En jou lieflike vlamrooi hare
Jou vuur en passie vir die lewe weerkaats,
Hoe kan ek dan anders,
As om jou te begeer
En om jou teer aan te raak?

Aliera, my liefling Prinsessie,
Wanneer jy met jou sagte bruin oë, wat my siel ontleed,
Jou mooi persoonlikheid en aansteeklike lag,
Hulpvaardig en onbaatsugtig
Vreugde, geluk, warmte en lig
Uitstraal na elkeen wat daarna smag,
Hoe kan ek dan anders,
As om jou te bewonder
Vir jou innerlike prag?

Aliera, my liefdevolle engel,
Wanneer jy met jou sagte hart van die fynste goud
Jou gawes en besittings met ander deel,
Ten koste van jouself
Met sagmoedigheid en uit liefde,
Mens en dier se lyding en pyn wil heel,
Hoe kan ek dan anders,
As om jou lief te hê
En jou suiwer hart te steel?

Aliera, my hart, my siel, my beminde,
Wanneer ek liefderyk jou soete naam fluister,
As ek in vervoering, van woorde ontdaan,
Aan jou my oneindige liefde,
Innige waardering en respek wil betuig,
Wil sê: jy’s die rede vir my bestaan,
Hoe kan ek dan anders,
As om vir so lank as wat ons leef,
Jou vir altyd myne te maak?

Butterfly.
 
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap