Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

Jou swakheid, My krag.


Op elke mens se lewensweg kom daar soms struikelblokke wat dit vir jou moeilik maak om jou lewensreis te voltooi. Deur ‘n donker bos van wanhoop, en dit voel asof jy nooit lig sal sien nie. Oor berge van probleme wat ontsettend hoog en onoorkomelik lyk. ‘n Pad met dorings besaai, en jou so baie pyn veroorsaak, jy dink dat jy nooit weer sal heel nie. Botsende emosies wat jou soos ‘n stroom kolkende water meesleur, sodat jy voel of jy dieper wegsink, an gaan verdrink. Dit is die weg van die lewe, deel van menswees. Dit
gebeur dikwels dat jy soek na liefde, vriendskap, lewensvreuge, vrede en sukses. Jy soek na iemand met wie jy jou vrese, drome, verwagtinge, ongeluk en geluk kan deel. Iemand wat saam met jou stil kan wees en bloot net jou teenwoordigheid geniet en waardeer. Jy besef dat daar meer is as net jou gesin, familie en werk, en wil so graag deel wees van die lewe daar buite. Tydens jou soektog maak jy foute en neem onoordeelkundige besluite wat jou lewe onherroeplik kan verander.

Wanneer jy uiteindelik besluit om ‘n verandering te maak, kom jy agter dat diegene wie tot dusver jou verantwoordelikheid was, nie kan saamleef met die feit dat jy ‘n mens met behoeftes, eie belangstellings en ‘n eie, unieke persoonlikheid is nie. Hoe se jy aan jou geliefdes dat jy hulle liefhet, maar dat jy tyd vir jouself wil he? Dat jy dinge wil doen waarvoor daar nooit tyd was, of nie finansieel sterk genoeg was om dit te doen nie. Hoe se jy aan hulle dat jy ‘n lewe van jou eie wil he sonder om hulle liefde en respek te verloor? Jy het jou lewe lank opofferings gemaak vir die mense wie jy liefhet, en nou het dit tyd geword dat jy aan jouself dink. Is dit verkeerd om jou vryheid te geniet voordat jy te oud is? Daar is so baie wat jy wil doen, maar dit dra nie die goedkeuring van die mensdom weg nie en jy moet doen wat van jou verwag word. Soos ‘n marionet wat die stroom volg en uiteindelik die ewigheid ingaan met die wete dat jy nie hard genoeg probeer het om volgens jou eie reels en regulasies te leef nie. Jy word beskou as ‘n goeie ouer, ‘n getroue eggenoot en Christen, ‘n lojale werknemer, tog, wanneer jy op ‘n dag besluit dat jy jou verantwoordelikheid teenoor jouself moet nakom, word jy nie toegelaat om dit te doen nie. Jy het die reg om van besluit, of jou lewenswyse te verander, maar slegs as dit die mensdom pas. Jy mag maar seergemaak and verneder word, maar wanneer vrae gevra word, mag jy nie ‘n eerlike antwoord op opinie gee nie, uit vrees dat jy jou medemens sal seermaak of gevoelens sal krenk. Jy moet liewer vergeet dat daar ‘n tyd was toe jy stief behandel was. Wanneer jy die geleentheid kry, mag jy probeer om jou kant van die saak te stel, maar iemand anders besluit hoe jy voel en wat jou gedagtegang is. Jy het die volste reg om jou medemens te help, maar iemand anders besluit wat jou beweegrede is. Kortom, jy word nie toegelaat om jouself te wees nie. Om aanvaar te word, moet jy jou persoonlikheid, jou menswees aanpas by diegene met wie jy daagliks omgaan.

Op ‘n dag besef jy met skok dat jy jouself aan die lewe onttrek het, jy staan by ‘n kruispad en jy weet nie waar om uit te draai nie. Jy is nie die besadigde, stil, teruggetrokke persoon is nie, maar het verleer het om jouself te wees. Jy ontdek dat jy ‘n sprankelende, uitdagende, impulsiewe en selfs kinderlike wese is, en dat jou lus vir die lewe nog nie geblus is nie. Maar jou plig teenoor jou geliefdes verhoed jou om die lewe te ervaar soos jy graag wil. Jy het keuses om te maak. Kies jy jou vryheid, mag jy diegene wie vir jou dierbaar is, verloor. As jy verkies om jou vryheid terwille van jou geliefdes prys te gee, verloor jy die enigste kans om weg te breek en te doen wat jy graag wil.

Nou het my beurt ook gekom. Op ‘n Sondagmore, ver van my huis en gesin, alleen in ‘n park het ek gesit. Mismoedig, verward en ongelukkig. Die keuses wat ek gemaak het, die pad wat ek tot dusver geloop het, het my tot hier gebring. Ek wou ook graag gelukkig wees en ‘n bietjie vryheid geniet, maar dit sou beteken dat ek diegene naaste aan my sou seermaak. Hoe gee jou uitting aan jou gevoelens wanneer jy die vermoe om te kommunikeer langs die pad verloor het, of aan ‘n minderwaarsdigheidskompleks lei? Hoe tel jy die drade van jou lewe op? Waar jou hart behoort te wees, is net een rou seer. Jy voel vernederd, verslae, verstote en verontreg. Die verlede, en gebeure van kort gelede speel voor my af en ek sien geen uitkoms nie. In die verlede het ek verkies om alles wat in my pad kom, goed of sleg, te aanvaar en daarmee te leef. My oe het uiteindelik oopgegaan nadat een van my niere verwyder is. Ek het op die operasietafel gele en dit was asof ek‘n gewisse dood in die oe staar. Ek het op daardie oomblik geweet dat as ek sterf, net my familie en ‘n paar kenisse my begrafnis sal bywoon. Ek het geen vriende gehad nie, het mense vermy en sodoende ook konfrontasies. Ek het nog altyd probeer om almal rondom my gelukkig te maak, maar ten koste van myself. Was dit reg of regverdig teenoor myself? Beslis nie, maar ek was self verantwoordelik vir die situasie waarin ek op daardie tydstip verkeer het. Ek was nog altyd ‘n goeie vrou, moeder en nog meer, het meer as net my plig gedoen, sonder om aan myself te dink. So baie gedagtes het deur my kop gegaan, en ek het saggies, geluidloos begin huil. En toe, saggies, veerlig voel ek iets teen my been skuur. ‘n Eekhorinkie, fyn en klein gryp met sy klein pootjies na my toon en onwillekeurig borrel ‘n laggie oor my lippe, wat hom vinnig laat wegskarrel. ‘n Ligte briesie waai deur die booptoppe en die droe blare dwarrel grondwaarts. Ek raak ineens bewus van die kleureprag rondom my. Bome en struike in verskillende skakerings van groen, die blou lug. Die berge troon majestieus bo die statige, ou geboue uit. ‘n Paar skoenlappers dartel en dans vir ‘n paar sekondes voor my rond en vlieg dan liggies verder. Ek neem alles voor my in. ‘n Lewensgrootte prent perfek geskilder deur die hand van God. Ek kyk na die eekhorinkie wat ‘n entjie verder aan ‘n saadjie kou. Net so klein, so weerloos soos ek. Aan die genade van ander uitgelewer. Ek sluit my oe vir ‘n oomblik, en onthou my dierbare vriend se woorde van ‘n paar maande gelede, toe ek ook bemoediging nodig gehad het: “Miskien moet jy 2de Korinthiers 12 vers 9 lees.” My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Dit bring berusting, aanvaarding, en ek weet dat my hemelse Vader in beheer van my lewe is. Sy genade is vir my, ‘n sondige mens genoeg.
BUTTERFLY.
 
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap