Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

My Oase die Eikestad


Iewers is ‘n plek, so na aan my hart
Waarnatoe ek vlug
Van verantwoordelikheid en plig.
‘n Vreedsame, rustige stad.
Historiese geboue, statig, majestueus,
Vertel ‘n verhaal
In woordelose taal,
Gebeure waarvan ons maar net kan lees.
Smorens word jy vriendelik begroet
Deur ‘n toneel wat ontvou
Teen die berge so blou
En voelgesang, vrolik en soet.
Die son wat skugter oor die berge loer,
Kom skaam tevoorskyn
As die nanag verdwyn.
‘n Idilliese prentjie wat jou ontroer.
In die verte le die wingerde, groen.
Deur rose omsoom
‘n Kleurryke vertoon,
Elke blaartjie deur doudruppels gesoen.
Liefdevol geskilder deur die hand van die Heer.
Volmaak, perfek,
Wat eerbied wek,
En my laat terugkom, keer op keer.
Saans, as die son na ‘n lang dag verdwyn
Verander die toneel,
In ‘n nagtelike tafereel,
Wanneer die silwer maan verskyn.
Fluisterend, liefderyk teenmekaar aangevly,
In die versilwerde baan
Van die eikelaan
Stap bemindes, kommervry.
Die soel aandwind speel teen my vel.
Ontspanne stap ek voort.
Rustig, onverstoord,
En voel bevryding in my opwel.
Hier kan ek bepeins in my enigheid.
Oor die lewe,
Oor die liefde.
Niks wat my jaag, geen benul van tyd.
My sorge, my laste, alles weggevat.
In my siel is daar vrede,
In my hart is daar vreugde.
My toevlug, my oase, die wonderskone Eikestad.

BUTTERFLY.
 
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap