Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

Net soos ek is.


My God en Koning,
net soos ek is;
mens, klein en nietig
kom staan ek voor U troon.
In my benoudheid
wend ek my na U,
ons Vader,
wat in die hemel woon.

Wanneer ek,
soos die verlore seun
verkeer in diepste van ellende,
sak ek op my knieë neer.
Soos die vrou van Kanaan
roep ek uit:
‘Help my, o Heer!’

As ek soos Job, verpletterd,
lyding en smart ontbeer,
wag ek geduldig met die wete;
U wil sal geskied.
Vertrou ek dan soos Abraham
U sal, o God almagtig,
voorsien, en uitkoms bied.

Net soos ek is,
sondaar,
mens, klein en nietig,
buig ek boetvaardig voor U neer,
vra ek om vergiffenis.

Die diereryk,
ook selfs die plante van die veld
is stil getuies
van U wonderdade.
Elk Godgeskape kreatuur
deel in U volmaakte liefde
en genade.

Soos Dawid
wil ek U prys en lof toesing,
met my hele hart en siel,
aan U hulde bring.

Want aan U alleen
behoort die koninkryk,
die krag en heerlikheid,
van nou af
tot in ewigheid.
Amen.

Butterfly.
 
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap