|
Wat het ek ooit gedoen
Om die geskenke te ontvang?
Hoe kan ek ooit verklaar,
Die onbeheerbare drang?
Om van vreugde rond te huppel,
Om van blydskap te lag en sing.
Om jubelend, in verrukking,
Ere aan my God te bring.
Hier in my moee arms,
‘n Sagte bondeltjie mens.
Verplooide, oumensgesiggie,
Fronsende voorkoppie, intens.
Ag-moederlik getuite lippies,
Met roosknoppie neusie so fyn.
Die allerkleinste ou kennetjie,
Twee miniatuur-oortjies, klein.
Dwergarmpies, vuisies, swaaiend,
Vingertjies grypend in die lug.
Skoppende stokkies-beentjies,
Ronde ogies, vas op my gerig.
‘n Ontsaglike gevoel van teerheid
Neem van besit van my.
‘n Magtige, suiwer liefde.
Wat my moederhart verbly.
Warm en beskermd
In my arms toegevou.
Toe-ogies en tevrede,
Aan my sorg toevertrou.
BUTTERFLY.
|