Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

Uit die Heer se hand.


 

Sondagmiddag, 5 Junie. 'n Mens sou verwag om donkergrys wolke in die lug te sien, maar op hierdie wintersdag is daar nie 'n wolkie in die helderblou lug te bespeur nie. Beslis 'n rare, maar welkome verskynsel. Ek verruil dan ook my middagslapie vir 'n wandeling, en staan vir 'n paar oomblikke stil toe ek die voordeur agter my toetrek. Die winterson omhels my en die warmte dring deur tot in my hart. Wat 'n wonderlike voorreg om na die stortreën van die vorige aand, so 'n lieflike dag te beleef.

Op my uitstappie kom ek heelwat mense teë en wonder of hulle, soos ek, besef dat hierdie lieflike dag ten volle benut moet word. Ek verkyk my aan die kinders wat oral in die modder rondplas, en is natuurlik een van die onverstandige volwassenes wie dit te na aan die jillende kinders waag, en as beloning 'n blerts vaalbruin modder op my pikswart romp opdoen. Die rakkers is totaal onbewus van my ongelukkie wat deur hulle speletjie veroorsaak is. Dit laat my terugdink aan die dae toe ek nog kind was, en natuurlik soortgelyke stoute dinge aangevang het, daarom besluit ek om hulle te laat begaan, en stap dus glimlaggend aan.

Ek pluk 'n geel suringblommetjie en kou daaraan. Die surigheid van die stingel kom sit in my kiewe en ek dink by myself dat die lewe partykeer net so suur kan wees. Gelukkig kan ons soms wegbreek en ontslae raak van dit wat ons frustreer of kwel, al is dit dan net vir 'n uur of twee. My manier om te ontsnap, is om vir 'n wandeling te gaan, die prag van die natuur in te drink, en salwing vir die gemoed te kry. Dit is nie altyd veilig om alleen te gaan stap nie, maar ek kan myself nie keer nie. Die natuur roep, en ek moet gehoorsaam.

My voete dra my tot in 'die bos', een van die mooiste plekke in ons dorp. Ek stap oor die groen, welige grastapyt wat sag onder my voete voel, staan vir 'n wyle stil, sluit my oë en luister. Die simfonie wat die effense briesie aandra, laat my in vervoering. Die kabbelende stroompie, die geruis van blare wat dartel in die wind, versteekte paddas wat kwaak en fluitende voëls, wat hul waardering vir die heerlike dag vrolik uitsing. Die ou geboue wat so deel is van ons pragtige dorp, loer tussen die bome deur. Van iewers kom die geur van blomme, soet en bedwelmend, wat my laat besluit om verder te stap, om die oorsprong van die lieflike geur te vind. Ek spring oor die stroompie, stap tot teenaan die voet van die berg, en dan sien ek dit: Pragtige lila-pers blommetjies, gegeur met die sagste parfuum, weggesteek onder lowergroen blare. Ek pluk een van die lieflike blommetjies en ruik kort-kort daaraan. Stadig klouter ek teen die berg op, en soek na 'n geskikte plek, van waar ek die beste uitsig sal kan hê. Verder aan vind ek 'n afgesaagde boomstomp waarop ek my tuismaak.

'n Asemrowende toneel ontvou voor my. Die goudkleur van die son word deur die helder stroompie vasgevang, en die weerkaatsing verblind my vir 'n oomblik. My oë volg die loop van die stroompie en ek word beloon met die verskyning van 'n padda, wat vir 'n paar sekondes die wêreld vanaf 'n klip bespied, en dan met een lang sprong in die water verdwyn. Wit varklelies steek hulle koppe bokant hulle groot blare uit en steek hulle geel tongetjies astrant uit. Groot wit paddastoele wat tussen die gras groei, lyk soos speelgoed tafels langs die oewer van die stroompie. Fier en regop staan die dennebome, asof hulle wag hou oor die tenger boompies en plante wat rondom hulle stamme groei. Eenkant staan die eikebome en wag op die wind, om hulle van hul blare te stroop, om wanneer die lente aanbreek, hulle nuwe groen blaartjies ten toon te stel. Af en toe ruk die wind aan die geel en bruin getinte blare, wat sierlik afwaarts sweef, om 'n bietjie kleur aan die groen tapyt te verleen.

Verskillende skakerings van groen versier die grys graniet teen die wande van die berg, soos die liggroen miniatuur-varings teen die agtergrond van donkergroen struike. Klimop hang soos kant teen die hange af, en die mos wat plek-plek groei, lyk soos stukke ferweel wat teen die berg vasklou. Klein geel en pienk suring blommetjies vertoon ewe kordaat hul kleureprag op die wintersdag. Skaam loer 'n paar oranje suurkanolle deur die struike, en 'n suikerbekkie steek sy lang, fyn snawel in die kelk van 'n erica, om die nektar te geniet. Die swaard-agtige blare van suurkanolle wat hoër op teen die berg groei, verdwerg 'n paar bossies kleinsalie, wat hard probeer om hul plekkie in die plantryke omgewing te behou. Verkillende soorte vetplante groei oral teen die berg, en hulle vaal blare vorm saam met die kleureprag van suurkanolle, 'n manjifieke kontras teen die groen massa. 'n Druppel water wat daarin geslaag het om behoue te bly, word deur die strale van die son gevang, en skitter soos 'n versteekte diamant tussen die welige plante.

Ek kyk op na die blou lug, en dank die Heer vir die voorreg, om op 'n wintersdag die glorie van Sy handewerk te aanskou. As ek gespaar bly en solank ek die krag het, sal ek weer en weer na hierdie stukkie ongerepte paradys terugkeer. Hopelik sal ek iemand vind om saam met my, hierdie ongelooflike natuurskoon te beleef, te waardeer en te geniet. Terwyl ek teen die berg afklouter, sing ek uit volle bors: 'My wandellied', en stap huistoe, heeltemal ontspanne en gelukkig.

Butterfly.
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap