Sondagmiddag, 5 Junie. 'n Mens sou verwag om donkergrys
wolke in die lug te sien, maar op hierdie wintersdag is daar nie
'n wolkie in die helderblou lug te bespeur nie. Beslis 'n rare,
maar welkome verskynsel. Ek verruil dan ook my middagslapie vir
'n wandeling, en staan vir 'n paar oomblikke stil toe ek die
voordeur agter my toetrek. Die winterson omhels my en die warmte
dring deur tot in my hart. Wat 'n wonderlike voorreg om na die
stortreën van die vorige aand, so 'n lieflike dag te beleef.
Op my uitstappie kom ek heelwat mense teë en wonder of hulle,
soos ek, besef dat hierdie lieflike dag ten volle benut moet
word. Ek verkyk my aan die kinders wat oral in die modder
rondplas, en is natuurlik een van die onverstandige volwassenes
wie dit te na aan die jillende kinders waag, en as beloning 'n
blerts vaalbruin modder op my pikswart romp opdoen. Die rakkers
is totaal onbewus van my ongelukkie wat deur hulle speletjie
veroorsaak is. Dit laat my terugdink aan die dae toe ek nog kind
was, en natuurlik soortgelyke stoute dinge aangevang het, daarom
besluit ek om hulle te laat begaan, en stap dus glimlaggend aan.
Ek pluk 'n geel suringblommetjie en kou daaraan. Die surigheid
van die stingel kom sit in my kiewe en ek dink by myself dat die
lewe partykeer net so suur kan wees. Gelukkig kan ons soms
wegbreek en ontslae raak van dit wat ons frustreer of kwel, al
is dit dan net vir 'n uur of twee. My manier om te ontsnap, is
om vir 'n wandeling te gaan, die prag van die natuur in te
drink, en salwing vir die gemoed te kry. Dit is nie altyd veilig
om alleen te gaan stap nie, maar ek kan myself nie keer nie. Die
natuur roep, en ek moet gehoorsaam.
My voete dra my tot in 'die bos', een van die mooiste plekke in
ons dorp. Ek stap oor die groen, welige grastapyt wat sag onder
my voete voel, staan vir 'n wyle stil, sluit my oë en luister.
Die simfonie wat die effense briesie aandra, laat my in
vervoering. Die kabbelende stroompie, die geruis van blare wat
dartel in die wind, versteekte paddas wat kwaak en fluitende
voëls, wat hul waardering vir die heerlike dag vrolik uitsing.
Die ou geboue wat so deel is van ons pragtige dorp, loer tussen
die bome deur. Van iewers kom die geur van blomme, soet en
bedwelmend, wat my laat besluit om verder te stap, om die
oorsprong van die lieflike geur te vind. Ek spring oor die
stroompie, stap tot teenaan die voet van die berg, en dan sien
ek dit: Pragtige lila-pers blommetjies, gegeur met die sagste
parfuum, weggesteek onder lowergroen blare. Ek pluk een van die
lieflike blommetjies en ruik kort-kort daaraan. Stadig klouter
ek teen die berg op, en soek na 'n geskikte plek, van waar ek
die beste uitsig sal kan hê. Verder aan vind ek 'n afgesaagde
boomstomp waarop ek my tuismaak.
'n Asemrowende toneel ontvou voor my. Die goudkleur van die son
word deur die helder stroompie vasgevang, en die weerkaatsing
verblind my vir 'n oomblik. My oë volg die loop van die
stroompie en ek word beloon met die verskyning van 'n padda, wat
vir 'n paar sekondes die wêreld vanaf 'n klip bespied, en dan
met een lang sprong in die water verdwyn. Wit varklelies steek
hulle koppe bokant hulle groot blare uit en steek hulle geel
tongetjies astrant uit. Groot wit paddastoele wat tussen die
gras groei, lyk soos speelgoed tafels langs die oewer van die
stroompie. Fier en regop staan die dennebome, asof hulle wag hou
oor die tenger boompies en plante wat rondom hulle stamme groei.
Eenkant staan die eikebome en wag op die wind, om hulle van hul
blare te stroop, om wanneer die lente aanbreek, hulle nuwe groen
blaartjies ten toon te stel. Af en toe ruk die wind aan die geel
en bruin getinte blare, wat sierlik afwaarts sweef, om 'n
bietjie kleur aan die groen tapyt te verleen.
Verskillende skakerings van groen versier die grys graniet teen
die wande van die berg, soos die liggroen miniatuur-varings teen
die agtergrond van donkergroen struike. Klimop hang soos kant
teen die hange af, en die mos wat plek-plek groei, lyk soos
stukke ferweel wat teen die berg vasklou. Klein geel en pienk
suring blommetjies vertoon ewe kordaat hul kleureprag op die
wintersdag. Skaam loer 'n paar oranje suurkanolle deur die
struike, en 'n suikerbekkie steek sy lang, fyn snawel in die
kelk van 'n erica, om die nektar te geniet. Die swaard-agtige
blare van suurkanolle wat hoër op teen die berg groei, verdwerg
'n paar bossies kleinsalie, wat hard probeer om hul plekkie in
die plantryke omgewing te behou. Verkillende soorte vetplante
groei oral teen die berg, en hulle vaal blare vorm saam met die
kleureprag van suurkanolle, 'n manjifieke kontras teen die groen
massa. 'n Druppel water wat daarin geslaag het om behoue te bly,
word deur die strale van die son gevang, en skitter soos 'n
versteekte diamant tussen die welige plante.
Ek kyk op na die blou lug, en dank die Heer vir die voorreg, om
op 'n wintersdag die glorie van Sy handewerk te aanskou. As ek
gespaar bly en solank ek die krag het, sal ek weer en weer na
hierdie stukkie ongerepte paradys terugkeer. Hopelik sal ek
iemand vind om saam met my, hierdie ongelooflike natuurskoon te
beleef, te waardeer en te geniet. Terwyl ek teen die berg
afklouter, sing ek uit volle bors: 'My wandellied', en stap
huistoe, heeltemal ontspanne en gelukkig.
Butterfly.
|