|
Vandag bevind jy jou
op die drumpel van 'n nuwe lewensjaar.
Gun jouself 'n oomblik
om stil te staan en terug te kyk .
Daar is jou gesinskring,
onbreekbaar met 'n liefdesband gebind.
Jou tuiste die oase
waar jy na 'n lang dag rus kan vind.
Dit is geskenke van Bo.
Die vele storms
wat veronderstel was om verwoesting na te laat
kon jou nie breek,
want met 'n hart gevul met liefde
het jy vurig,
onverskrokke vorentoe gebeur,
die stryd gewen,
danksy volharding in gebed, geloof in God ons Heer.
Dit was krag van Bo.
Sien die spore,
diep getrap deur jou, wie onbaatsugtig jou besittings,
jou hele menswees deel,
met vriende en ook vreemdes.
Jy het op jou pad
net die beste saad gesaai.
Dit ook self vertroetel en bemes
sodat jou medemens die vrugte van sukses kon maai.
Dit was 'n opdrag van Bo.
Betree dan nou
'n nuwe, onbekende lewensjaar,
vergesel deur wense
en gebede diep uit my hart.
Mag God jou in Sy arms
veilig koester en bewaar.
Mag Hy jou oorvloedig seën,
jou hand in Syne neem en oral met jou gaan.
Genade vir jou, van Bo.
Ek wil jou toewens,
gesondheid,
voorspoed en sukses.
Mag die goeie Vader
jou toerus met Sy wapens,
sodat jy elke aanslag van die lewe
teë sal staan en af kan weer.
Ek bid dat Hy vir vele jare nog,
aan jou eindelose vreugde, geluk en vrede gee.
Suiwer liefde vir jou, van Bo.
Butterfly.
|