|
Alleen, in gedagtes versonke,
Omarm deur die donker nag.
Klam teen my vel, die koue wind,
Sing sy aandlied, treurig, sag.
Dis ‘n lied van pyn en hartseer,
Van verlange en onthou.
Herinnerings, onvergete.
Iewers weggebere, toegevou.
Die melodie ‘n wenende versugting,
Van ‘n brose, verskeurde, hart.
Diep in my siel vind nou dit aanklank,
Verdrietig, en deurdrenk van smart.
Vergeefse drome verpletter,
Flenters verydelde hoop.
‘n Reliek van wedersydse passie,
Dit laat ‘n wond, bloeiend, oop.
Die behoefte om ‘n weersiens.
Die musikale stem te hoor.
‘n Smagting net om aan te raak,
Te sien die glimlag wat my so bekoor.
Troosteloos, so leeg en doelloos,
Strek die toekoms voor my uit.
Dalk is geluk my nie beskore,
Dit het my altyd nog ontwyk.
Soos ‘n verwerpte kindjie sit ek
Ineengedoke op die grond.
Die ongehinderde stroom van trane,
Laat ‘n wrang smaak in my mond.
Die futiliteit van my vergeefse liefde,
Skroei bitter, fel deur my.
Kosbaar, gedeelde uurtjies,
Onherroeplik, dis verby.
Ek rig my oe wanhopig
Op na die hemelboog.
Ek vra, Heer van genade
Om my trane af te droog.
O Vader, Groot Geneesheer,
Ek vra volgens U wil,
Nie dat ek dit verdien nie,
Om die pyn in my te stil.
Bring my aanvaarding en berusting,
Gee my krag om voort te gaan.
Vergewe my my skuldlas, Vader.
Sien my in my ellende aan,
Opregte, ware liefde,
Word net eenmaal ondervind.
Ontsagwekkend, ondeurgrondbaar.
‘n Emosie wat verblind.
Die liefde is ‘n gawe,
‘n Skat uit God se hand.
Vertroetel en bewaar dit,
En dit hou verewig stand.
BUTTERFLY.
|