|
Hul noem dit ‘n Vergadering.
Vir my, die enigste toeskouer,
Was dit liefs ‘n opvoering,
Waar akteurs hulle verlustig
Aan die glans en glorie
Van mag, kennis en erkenning.
Geskrewe in onsigbare hoofletters,
Duidelik leesbaar op gesigte,
Was wedywering en smagting
Na roem en ‘n ongekende hoogte.
Net enkeles onaangeraak
Deur die onsinnige spel
Van elke akteur en aktrise,
Wie, wanneer die gordyn weer sak
Die verhoog verruil
Vir die lewe van die alledaagse.
Dalk is dit net ontvlugting,
Want later, keer almal weer terug,
Na die stryd en kwelling
Van harde werklikheid en plig.
As dit stil word
En die soete slaap ontwyk
Bly soms net leemtes, behoeftes,
Hier en daar ‘n onvervulde wens.
Dan kom die besef:
Die lewe was nog nooit ‘n spel nie.
Soos die mense buitekant hul kring
Bly elk van hulle immers net ‘n mens.
Butterfly.
|