Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

Vir Garthwin.



Dit voel soos gister,
geliefde seun,
beminde broer,
getroue vriend,
toe jy nog by ons was.
Jou stem was toe nog woorde,
jou lag 'n lied,
jou gesig 'n lewende skildery.
In jou was daar lewe,
liefde en geluk,
waarvan elkeen 'n deel kon kry.

Jou drome was eendag
se wil ek,
sal ek,
moet ek nog.
Jou toekoms was 'n vooruitsig.
Nou hoor ek jou lag,
jou soete stem,
slegs in die wind se fluistering.
Jou lewenslus,
jou gestalte en gesig
slegs 'n herinnering.

Soms is daar nog vrae,
gedagtes soos het jy maar,
as jy tog net,
en waarom.
Daar is winters van verlange
maar ook somers van terugdink,
'n erfstuk deur jou nagelaat.
Jy was 'n geskenk
maar net aan ons geleen.
Voltooid is jou lewensverhaal.

Dis so lank voor gister,
geliefde seun,
beminde broer,
getroue vriend,
toe jy nog by ons was.
Dog,
'n fynbeplande eendag,
jou sekere bestemming,
was nie op die aardse sfeer.
Jou salige, ewige rusplek
is 'n Hemelse oase,
veilig aan die voete
van ons Heer.

Butterfly.
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap