Butterfly Lines - a collection of love poems and short stories

'n Ware vriend.


Jy is soos die son
Wat my hart verwarm
Wanneer ek verstote en verlore is.
Jou humorsin
Bring my lag terug
Laat my vergeet van elke bekommernis.

Jy is soos die maan
Wat my pad verlig
Wanneer die toekoms vir my donker lyk.
Jou wyse raad
Volg ek baie graag
Want dan neem die duisternis die wyk.

Jy is soos 'n ster
Wat my die pad aanwys.
Jy bring my terug wanneer ek verdwaal.
Jy skitter selfs
In jou afwesigheid.
Het ek jou nodig, gaan my gedagtes jou haal.

Jy is soos die wind
Wat alles wegwaai
Wat skort, wat my pla of kwel.
Jou bemoediging,
Elk vertroostende woord,
Gee my nuwe krag, en maak alles weer wel.

Jy is soos die reën
Wat my verkwik
As ek mismoedig en droewig voel.
Jy laat my al
My seëninge tel,
En ek besef, wat ookal gebeur, het 'n doel.

Jy is soos 'n rots
Waarop ek steun
Wanneer ek hulp of bystand vra.
Altyd gereed
Met 'n helpende hand,
Ook bereid om my kruis te help dra.

Jy is my vriend
Wie ek kan vertrou,
Wie my nooit sal verwyt of verkleineer.
Jy is eerlik
En regverdig,
Met 'n hart van goud, liefderyk en teer.

Duisende dankies
Vir jare se vriendskap.
Wees verseker dat ek jou waardeer.
My gebede is
Dat jy gelukkig sal wees.
Jy verdien die beste en nog baie meer.

Butterfly.
Quick Links

English Poems

Afrikaans Poems

Short Stories
© 2006 CornishWeb.com
Dogs Online | Computers & Electronics | sitemap