ANDRIES.
Slingerend kom hy aangestap, mik na die regterkant van die
pad, maar dit lyk asof sy bene 'n wil van hul eie het, en sy
voete swaarder as sy lyf weeg. Om dinge te vererger wil sy oë
ook nie so lekker korrel nie, en hy moet kort kort gaan staan
net om seker te maak dat hy in die regte straat is. Hy sien die
ding wat op hom afstorm en probeer om uit die gevaarte se pad te
beweeg. Te laat. Die fiets tref hom skrams en hy word eenkant
toe geslinger deur die geweld van die stamp. Vloekend sukkel hy
om orent te kom, en na die derde probeerslag kry hy dit ook reg,
alhoewel sy lyf nog vorentoe en agtertoe wieg. Dan begin hy
luidrugtig en vrolik 'O brandewyn laat my staan' te sing op die
wysie van 'Stille Nag, Heilige Nag'. Dit is 'n teken dat hy nie
te seergekry het nie. Hy slinger al singende verder, af en toe
kla hy dat mense nie meer weet hoe om liedjies te skryf nie,
want so kan 'n mens mos nie met 'n eenvoudige brandewynliedjie
sukkel nie. Hy nader die huis net toe die liedjie by sy einde
kom. Hy bereik die voorhekkie en maak dit met 'n groot gesukkel
oop. "Vrou! Ek is tuis!" Bulder hy. Die voordeur gaan oop en 'n
lywige tannie wag hom in. As verwelkoming kry hy 'n taai klap
waarop hy hewig protesteer. Die tannie trap hom behoorlik uit en
beveel hom om sy lyf in die bed te kry. Dit ontstel haar seun
geweldig wanneer sy pa in so 'n toestand huistoe kom, en hy sal
vanaand seker by vriende wil gaan kuier. Dis minstens beter as
om na sy pa se lawaai te luister. Sy wil graag vanaand so 'n
bietjie oorstap na haar buurvrou toe, so die seun kan maar
uitgaan.
STEFAN.
'n Paar huise verder speel 'n heeltemal ander toneel hom af.
Nog 'n man wat sy naweek geniet deur 'n paar drankies te veel af
te sluk. Ongelukkig vir sy gesin is hy glad nie so vrolik nie.
Inteendeel. Na 'n lang dag by die smokkelhuis is hy vreeslik
honger, en omdat hy die broodwinner is, verwag hy dat sy vrou
die kos gereed moet hê wanneer hy tuiskom. Hy het homself vroeër
op die gemaklikste leunstoel tuisgemaak, die oudste dogter
beveel om sy skoene uit te trek, en hy wag op sy vrou om sy ete
te bring. Die bord kos wat sy voor hom op die tafel neersit lyk
asof dit uit 'n restaurant kom, smaaklik en aantreklik voorgesit.
Hy kyk die kos vir 'n paar oomblikke aan en vra vir tamatiesous.
Sy tenger vroutjie, wat baie senuweeagtig voorkom, deel hom mee
dat daar geen tamatiesous is nie. Hy trek los met 'n string
vloekwoorde wat enige matroos die loef sal afsteek. Gedwee staan
die arme vrou voor hom en luister terwyl hy haar die lelikste
name toevoeg. Toe hy klaar is met sy tirade, begin hy
doodluiters eet. Sy draai om en stap terug kombuis toe om op te
ruim. Sy voel vernederd, seergemaak en warm trane loop oor haar
wange. Sy weet dit is nog nie verby nie. Hy sal later van haar
verwag om haar plig as vrou in die bed te volvoer. Dan sal hy
heelnag lê en snork en sy sal feitlik geen oog toemaak nie. Sy
moet dinge maar aanvaar soos dit is. Sy het nêrens anders om te
gaan nie, sy het geen vriende nie, en ter wille van haar kinders
moet sy maar deurdruk. Boonop sê die Bybel: wat God saamgevoeg
het mag geen mens skei nie. Sy is so afgetrokke dat sy nie eers
hoor as die voordeur oopgaan, en haar oudste dogter skelmpies
uitglip nie.
ROSA.
Wilde musiek klink uit die klub op. 'n Dame van om en by
veertig sit by die toonbank en wag dat die kelner haar drankie
bring. Sy het alreeds 'n hele paar drankies agter die blad, maar
nie genoeg om haar in die regte stemming te bring nie. Sy dink
nie vir een oomblik aan haar kinders nie. Hulle is
tienderjariges en groot genoeg om na hulleself om te sien, en
buitendien het sy gesorg dat hulle genoeg geld het, indien hulle
dalk wil uitgaan. Haar man werk nagdiens en hy gee glad nie om
dat sy af en toe 'n bietjie uitgaan nie. Sy is hier om haarself
te geniet en die hele aand lê nog voor. Die stywe romp wat sy
dra het sy spesiaal vir die geleentheid gekoop, en sy weet dat
sy baie aantreklik is. Selfs die jong mans in die klub kan hul
oë nie van haar afhou nie, en dit laat haar baie goed voel. Sy
besef dat sy nie meer jonk is nie, dat die lewe besig is om by
haar verby te gaan, maar sy het darem nog 'n paar jaar oor om
die lewe te geniet.
DAWID.
Hy het soveel werk om af te handel, en weet eerlikwaar nie of
hy die tyd gaan h om alles klaar te maak nie. Die enigste uitweg
is om Mre-oggend vroeg op kantoor uit te kom. Sy vrou sal nie
gelukkig wees daaroor nie, maar hy kan nie die belangrike werk
aan 'n junior klerk oorlaat nie. Dan is daar nog 'n verslag wat
getik moet word. Dit doen hy sommer tuis, wanneer hy en sy vrou
terugkeer van die ete-afspraak by die Viljoens. Die twee seuns
wil graag vanaand na een of ander geselligheid toe gaan. Dalk
moet hy hulle daar gaan aflaai en een van hulle vriende vra om
hulle weer terug te bring. Gewoonlik kom die twee eers na twaalf
tuis na 'n kuiertjie by vriende, of 'n lekker opskop. Ai, die
kinders van vandag. Hulle is veronderstel om te studeer vir die
eksamen, maar verkies om liewer te rinkink as om te studeer. Ag
wat, laat hulle maar hulself geniet. Daar sal 'n tyd kom wanneer
hulle, net soos hy, moet werk om 'n bestaan te maak.
DIE KINDERS.
Die vier jongmense sit voor die kaggel, elkeen met 'n glas
whisky. Dawid Kammies junior lyk veel ouer as sy sestien jaar,
en dit is seker waarom dit so maklik vir hom is om drank en
dwelms in die hande te kry. Sy boetie, wat twee jaar jonger is
as hy, waarsku hom telkens dat hy, Dawid, besig is met 'n
gevaarlike speletjie. Tot nou toe kon sy ouer broer hom nie
sover kry om sy mond aan die slegte goed te sit nie. Hy wil
graag eendag 'n onderwyser word, en gaan nie sy toekoms wegsmyt
deur drank en dwelms te gebruik nie. Hy hou die vier simpel
tieners dop en lag saggies. Hulle alvier lyk asof hulle
gehipnotiseer is. Oë stokstyf en starend. Snaaks dat hulle ouers
nog niks agtergekom het nie, maar hulle lei ook so 'n besige
lewe, dat hulle nie eens tyd het vir hulle kinders nie. Soms
wonder hy of hy hulle nie moet vertel dat Dawid junior met drank
en dwelms deurmekaar is nie. Nee wat, hulle sal dit seker later
agterkom. Dis sy ouers self wie vir Dawid voor die tyd die
grootmenswêreld instuur. Natuurlik sal hy grootmensdinge doen.
Hy het sy broer immers belowe om nie sy geheim te verklap nie,
en dit is beslis nie sy verantwoordelikheid om pa te speel nie.
Ewenwel, hy wat Tobie is, sal maar studeer en wie weet, dalk
word hy nog eendag 'n professor. Intussen sal hy maar nog sy
kindsdae ten volle geniet.
DIE GEVOLGE.
Dit is Saterdagoggend, tien voormiddag en die dorp wemel van
mense. Skielik klink die geloei van 'n polisiesirene op. Mense
storm nuuskierig straat toe om te kyk wat aangaan. Die straat is
afgekordon, en almal rek hul nekke om die motorwrak te sien.
Glasstukke lê oral rondgestrooi. Op die grond, met komberse
toegemaak, lê drie liggame. Duidelik kom die stem van 'n vrou
uit die skare mense wat saamdrom om die ongelukstoneel. "Foeitog,
die arme kinders. Nog so jonk. Jy ken mos vir ou dronk Andries
wat daar op die hoek van Eerstestraat bly. Sy seun en Stefan
Lange se dogter was mos vriende. Hulle het gisteraand saam met
Rosa Benade se seun by die De Waals gaan kuier en seker woes
aangegaan met die drank en dwelms. Het vanmore so halftien
huistoe gekom, nog half bedwelmd, en in 'n vier by vier vasgery
met Andries se Volkswagen Golf. Die bestuurder, dis nou Dawid
Kammies, het kopbeserings opgedoen en dit lyk asof dit ernstig
is, en ek hoop maar hy maak dit. Sy kinders is nog op skool en
het hom nodig. Nou kyk nou hoe lê daardie arme bloedjies daar,
al drie op slag dood. Nou sê jy vir my, waar was die ouers? Het
hulle geweet dat hul jong kinders ounag rondrits, en wie weet
watter tyd in die môre huistoe kom?"
Butterfly.
|