|
DIE WYSHEID VAN DIE GRYSHEID
GEREED VIR DIE HUWELIK?
|
 |
Het jy al gehoor van die
spreekwoord: ‘Die liefde is blind, maar die huwelik dra ‘n bril’,
of, ‘Terwyl jy ongetroud is, hou altwee oë oop, want wanneer jy
eers getroud is, moet jy maar die een oog toe en die ander een
oophou’? Dit beteken dat wanneer jy getroud is, daar geen
omdraaikans meer is nie, en dat jy maar op die spreekwoordelike
bed moet slaap wat jy vir jouself opgemaak het.
IS JY GEREED OM JOUSELF TE VERBIND?
Wanneer jy besluit om in ‘n ernstige verhouding met iemand te
betrokke te raak, sal dit beslis ‘n pluspunt wees as jy jou
selfvertroue, onderskeidingsvermoë en ‘n ‘lewe’ ontwikkel.
Onthou dat julle twee unieke individue met verskillende
verwagtinge, behoeftes, waardes, drome, swakhede en sterk punte
is. Nie een van julle is perfek nie, en dis menslik. Vra jouself
af: Is julle perfek vir mekaar? Is jy seker dat jy jou maat
opreg en onvoorwaardelik liefhet? Is jy seker dat die gevoel
wederkerig is? Is jy absoluut seker dat jy die groot stap wil
neem? Is jy bereid om aan jul verhouding te werk om die band
tussen julle te verstewig? Is jy dalk verlief op die liefde
self? Veroorsaak wellus, desperaatheid, onvolwassenheid, onkunde,
druk van familielede asook ‘n lae selfbeeld dat jy blind is vir
die waarskuwingstekens?
IS JY BEREID OM DIE RES VAN JOU LEWE MET IEMAND ANDERS TE DEEL?
Moenie jouself flous deur te dink dat jy enigiemand kan verander,
of jou maat se foute as onbelangrik beskou, of dat jy daarmee
kan saamleef nie. Wel, dalk kan jy daarmee saamleef, maar sal jy
dit ooit werklik kan aanvaar? Wanneer twee mense baie tyd saam
spandeer, raak die foute, kwesbaarhede, gewoontes en verskille
makliker waarneembaar. Daar kom selfs meer van hierdie
‘persoonlikheids-goggas’ by, wat irriterend kan raak. As jy
werklik ‘n sukses van jou verhouding of huwelik wil maak, neem
soveel tyd as wat jy nodig het om jou maat goed te leer ken.
Moenie toelaat dat elke klein foutjie jou pla nie. Gesels
daaroor en probeer op jou foute verbeter, en spoor jou maat aan
om dieselfde te doen.
WAT BRING JY IN DIE VERHOUDING?
Is daar letsels en oorblyfsels van verhoudings wat in die
verlede gefaal het? Probeer jy jou maat verander, hom/haar van
sy/haar identiteit te beroof? Jy kan nie iemand forseer om jou
lief te kry of om by jou te bly nie. Dit is ook nie jou maat se
verantwoordelikheid om jou gelukkig te hou nie. As jy 100% gee,
is jy geregtig om 100% uit die verhouding te kry. Bring jy die
beste in jou maat na vore? Komplimenteer julle mekaar of
kompeteer julle teen mekaar? Tref julle vergelykings of kom
julle tot vergelykings? Probeer julle mekaar beheer of is julle
in beheer van jul verhouding? Gebruik jy jou maat slegs om jou
eie toekoms te verseker, of kan jy hom/haar die versekering gee
dat jy jou toekoms saam met hom/haar wil deel?
JOU MAAT, DIE INDIVIDU.
Jul belangstellings sal nie noodwendig dieselfde wees nie en jul
sienswyses sal ook soms verskil. Dit is waarom kommunikasie so
belangrik is. Luister belangstellend na jou maat se doelwitte,
drome en planne en ondersteun mekaar. Geleerdheid, stand of prag
is dalk belangrik vir sekere persone wanneer hulle ‘n maat kies,
maar bedagsaamheid, begrip, besorgdheid en behulpsaamheid kan
enige verhouding verstewig. Julle mag dalk ‘n goeie
verstandhouding hê, maar ken jy werklik jou maat se behoeftes,
diepste wense en begeertes? Groei in ‘n verhouding is belangrik.
Groei saam en nie weg van mekaar nie. Gee ook mekaar ruimte vir
persoonlike groei. Laat jou maat toe om ‘buite-aktiwiteite’ te
hê. Julle kan nie altyd bymekaar wees nie en het soms
familielede en vriende nodig. Leer ken mekaar se
familiebetrekkinge en respekteer mekaar se ouers, ongeag jul
verskille.
GEE 100%, VERWAG 100%
Die bestanddele vir ‘n gesonde, liefdevolle, gelukkige en
altyddurende verhouding is, onder andere, kommunikasie, vertroue,
‘n sin vir humor, die deel van huishoudelike take, alleentyd
saam en liefderyke gebaartjies soos ‘n spesiale ete, ‘n drukkie,
‘n sagte aanraking, ‘n telefoon oproep om dankie te sê, ‘n
briefie met ‘n mooi boodkap op die bedkassie of ‘n
liefdesverklaring per e-pos. Wat enige verhouding skade sal
berokken is manipulasie, oneerlikheid, onredelike jaloesie,
obsessies, onbeholpenheid en selfsugtigheid.
SPANWERK IN ‘N HUWELIK OF VERHOUDING.
Die behoeftes van die gesin behoort ‘n prioriteit vir die
broodwinner te wees. Luukses kom heel onder aan die lys. Moenie
druk plaas op jou maat deur spandabelrig te wees of aan te dring
op materiële dinge nie. Onthou: ‘For better or worse’. Netheid,
persoonlike higiëne en ‘n gesonde leefwyse dra by tot ‘n
ordelike huishouding. Skep ‘n tuiste waarnatoe jou maat graag
wil terugkeer na ‘n harde dag se werk.
LIEFDE + RESPEK = VREDE IN DIE HUIS.
Praat altyd op ‘n beskaafde manier met mekaar. Lelike
taalgebruik kan ‘n verleentheid wees vir jou maat, asook
familielede, skoonfamilie en vriende. (Dit is ook iets wat
kinders maklik aanleer, en tuis asook op straat gebruik.) Hou in
gedagte dat jou maat die een oog en soms ook die een oor toehou
en jou lelike gewoontes moet verduur. Die verhouding raak
mettertyd soos ‘n vergete, onbruikbare stroom water wat maar net
voortvloei en iewers in die see beland. Vergeet van: ‘Ons is nou
getroud, ek hoef nie moeite te doen om goed of aantreklik te lyk
nie.’ Jou maat moet trots voel op jou, en bowenal moet jy trots
wees op jouself.
DINK WEER…..IS JY GEREED VIR DIE HUWELIK?
As die regte bestanddele ontbreek, sal die verhouding verweer.
Mettertyd sal teensin, mishandeling, verwaarlosing en
oneerlikheid by die agterdeur insluip, liefde sal by die
voordeur uithardloop, en jou maat sal geluk, rus en vrede op ‘n
ander plek gaan soek. Passie sal in pyn verander. Liefde mag
selfs in haat verander. Dit is ‘n voldonge feit dat baie
paartjies bymekaar bly ter wille van die kinders, of omdat die
troubelofte hulle dwing om bymekaar te bly. Soms is daar ook
gevalle waar liefde eensydig is. Dit beteken dat die een party
heeltemal gelukkig en tevrede is om sy/haar maat by hom/haar te
hê, terwyl die ander party, soms uit jammerte vir sy/haar maat,
maar op ‘n manier voortleef.
Wees wys. Wees geduldig, hou albei oë oop terwyl daar nog tyd
is, maak die regte keuse en wees gelukkig.Butterfly.
|
|
|